Hierdie is ‘n webblad.

Hier is nie veel nie.

Net woorde.

En jy lees dit.

Ons het behep geraak met spoggerige uitleg, vinnige ontwerpe en scripts wat wondere verrig

Maar die kragtigste instrument op die internet is steeds woorde.

Ek het dié woorde wat jy hier lees, geskryf: En dit is wonderlik.

Ek is in 'n klein stadjie in British Columbia en jy is heelwaarskynlik op 'n ander plek. Op die 20 Junie 2013 het ek vroegoggend hieraan gesit en skryf en jy lees dit heelwaarskynlik op 'n ander tyd. Ek het dit op my skootrekenaar geskryf en jy lees dit dalk op jou selfoon, 'n tablet of rekenaar.

Ek en jy het met mekaar in aanraking gekom omdat ek dit geskryf het en jy dit lees. Dit is die internet of web. Ten spyte daarvan dat ons op verskillende plekke is, verskillende toestelle gebruik en in verskillende tydsones is, kan ons hier met mekaar kontak maak op 'n eenvoudige HTML-bladsy.

Ek het 'n woordverwerkingsprogram gebruik. Dit is 6KB. Ek het nie 'n inhoudsbestuursisteem, 'n grafiese kunstenaar of 'n programeerder nodig gehad nie. Daar is glad nie baie kode op die bladsy nie, net eenvoudige uitleg vir paragrawe, hiërargie en beklemtoning.

Ek onthou hoe ek my dogter geleer het om HTML te kodeer toe sy agt jaar oud was. Die eerste ding wat sy geskryf het, was n storie oor n eekhoring. Sy het nie "HTML geskryf" nie, sy het haar storie met die res van die wêreld gedeel. Sy kon nie glo dat sy 'n storie op ons tuisrekenaar kan skryf en publiseer sodat die hele wêreld dit kan lees nie. Sy was nie oor HTML gepla nie, sy wou net graag haar stories met ander mense deel.

Jy lees nog steeds.

Dink aan ál die kommunikasie wat jy met 'n eenvoudige bladsy soos dié kan doen. As jy 'n sakeman is, kan jy iets verkoop. As jy 'n onderwyser is, kan jy in iets onderrig gee. As jy 'n kunstenaar is, kan jy 'n kunswerk wat jy gemaak het, ten toon stel. En as jou woorde goed geskryf is, sal mense dit lees.

As jy 'n webontwerper is of 'n kliënt wat saam met een werk, wil ek jou uitdaag om eerste oor die woorde te dink. In plaas daarvan om met 'n stylgids of 'n Photoshop-proefblad te begin, begin met woorde op 'n bladsy.

Wat wil jy sê. As jy nie weet nie, is daar nie veel sin om ál die ander oorblyfsels by te voeg nie. Begin net met een gefokusde blad. Skryf dit, publiseer dit en herhaal dit. Elke keer wanneer jy iets wil byvoeg, vra jouself af: "Help dit my om beter te kommunikeer? Sal daai ekstra stilering, prentjie of skakel my gehoor help om beter te verstaan?" As die antwoord "nee" is, moenie dit byvoeg nie.

In sy wese moet webontwerp oor woorde gaan. Woorde kom nie by nadat die ontwerp afgehandel is nie. Woorde is die begin, die kern, die fokus.

Begin met woorde.

Groete,
Justin Jackson

Die artikel was oorspronklik geinspireer deur Jason Fried se ontwerp van Know Your Company.

Translator: Leo GopalEnglish version